CALL US NOW 051 444 6143
DONATE NOW

Uitdagings vir ouer persone gedurende die Feesgety

Kersfees is ‘n tyd vir samesyn met vriende en familie.  Ouer persone ervaar dit dikwels as die tyd waarin hulle diè onthou wat hulle reeds verloor het. Dit is dikwels ‘n tyd van refleksie en herinnering. Eensaamheid raak 1 uit elke 5 ouer persone.  Gedurende die opwinding en energie van Kersfees is dit so maklik om te vergeet van die ouer persone wat steeds alleen in ‘n behuisingseenheid of versorgingseenheid bly sonder die voorreg om tyd saam met familie en vriende te spandeer.

Dit is dus belangrik om gedurende hierdie tyd ekstra moeite te doen om kontak te maak met die ouer persone in die familie en vriende kring. Help ouer persone om familie geleenthede by te woon, neem hulle op uitstappies of enige aktiwiteite wat die gevoel van die Feesgety sal ontlok.

Moedig ouer persone aan om so veel as moontlik natuurlike sonlig te kry.  Sonlig dien as ‘n natuurlike anti-depressant.  Kies dus aktiwiteite wat natuurlike lig en lug insluit. Hou in gedagte die mate van mobiliteit van die ouer persoon alvorens aktiwiteite aangepak word. Maak gebruik wat ondersteunende toestelle soos looprame en rolstoele om die ouer persoon se mobiliteit te vergemaklik.

Indien die ouer persoon bykans die hele jaar alleen in sy eie kamer of woonstel leef, kan dit moeilik wees om aan te pas in ‘n vertrek vol mense. Al die beweging en geluide te same met ‘n  ontwrigte roetine kan die ouer persoon angstig maak. Spandeer stiller tyd saam met die ouer persoon deur op ‘n stil plek te gesels. Berei ook ‘n plek in die huishouding voor waar die ouer persoon alleen tyd kan deurbring.

Help die ouer persone in die familie en gemeenskap om die uitdagings van die feesgety te hanteer.  Verseker ‘n Kersfees wat hulle sal onthou deur klein maar sinvolle aksies. Kontak gerus u naaste VVA Kantoor of Versorgingsfasiliteit om kontak te maak met ouer persone wat hierdie feesgety alleen moet deurbring.