So eenkant, alleen op sy stoel, sit hy met sy hande in sy skoot gevou.
Hy het die pad van die lewe gestap.
Soms was daar geluk, soms het die hartseer sommer vir weke of maande
op sy skouers gesit en vaskleef, asof die leed nie erg genoeg was nie, dan het
vergete gedagtes uit die vere verlede weer voor hom kom staan.
My hart gaan uit na hom, hy wat eens die klein knapie was, wat kniediep in sy mamma en pappa se harte was, die mooiste baba oor wie almal ge-oe en ge-aa het.
Met sy eerste wankel treetjies, het hy diep spore in sy ouers se harte getrap.
Hy was hul trots, die seun waarna hulle gesmag het om te hê.
Hy was die beste met kennetjie speel en sy aainies was altyd blink gepoets.
Sy tol het sommer gezing en tussen die ander tolle gedans.
Hy was pappa se grootman en mamma se seun waarmee sy altyd gespog het.
Vir hul was hy die beste.
Maar sy mamma en pappa het nie die roede gespaar nie, hy moes ook hou by die reëls,
want dissipline was baie belangrik.
Hy is deur skool en was so gelukkig om sy droommeisie te kon uitvra op `n date, om te kys.
Hy het sy lewe deur hard gewerk om soos sy pappa, aan sy gesin, net die beste te kon gee.
Sy stap was altyd veerkratig en moeg word, was nie eers `n opsie.
Hy het sy kinders in die Vrese van die Here grootgemaak,
soos sy ouers hom ook grootgemaak het.
En nou in die aand van sy lewe, is daar net herinneringe wat oorbly.
Een na die ander het sy geliefdes vertrek na hul Hemelhuis.
En nou hier in die VVA tehuis sit hy alleen met sy gedagtes.
Gedagtes wat terugstap in die verlede, van die dae toe hy met sy kettie
nog teiken geskiet het.
Toe hy die rugbybal onder die pale gedruk het die die gejuig van sy maats
en ouers was baie spesiaal en hy kon sy bors trots uitstoot.
En sy nooientjie het ook vir hom gecheer, sy met die lieflike blos op haar pragtige gesiggie.
Sy was sy meisie, hy onthou hul eerste soen, dit was sooo spesiaal.
Sy gedagtes fladder tussen gebeurtenisse in sy lewe en niemand sien die
verlange traan wat in sy oë opwel nie.
Hier moet hy wag totdat die doodsengel hom kom haal, om weer sy geliefdes te kan sien en om by God in die Hemel te wees.
So stil gelate vou hy sy een hand oor die ander een, terwyl hy sy oë sluit,
Oë waarin daar eers `n passie vir die lewe was en ook hartstog vir sy geliefdes.
Ek groet jou ou Oom en bid jou Vader se genade toe.
Mag God Oom veilig behoed, tot die laaste klok oom se einde aankondig.
Genade en Jesus se Liefde vir U.
Anita Erasmus (George)